My naam is Wagter

Ek is ses weke oud. My oë is nog dof blou. My asem ruik skoon, soos die van ‘n baba. Ek is onvas op my pote. Ek het vier. Ek is swart met twee, groot wit vlekke. Een oor my nek en skouer. Die ander oor my heupe. My pels is sag en blink. My ma sê, ek gaan ‘n mooi en slim hond word.

Ek word saggies opgetel. Ek word hoër opgelig. My voete soek vastrap. Ek raak benoud. My bene beweeg asof ek swem. Die persoon druk my kop teen sy lippe. Hy soen my. Dit was my eerste soen ooit. Ek is dadelik lief vir die persoon. Ek steek my tong uit. Ek lek hom. Dit is wat my ma doen wanneer sy my soen. Dit is soos honde soen. Die persoon lag. Druk my teen sy bors. Hy sê: “Hello Wagter, ek is Stoffel, ek het jou kom haal.” Ons soengroet mekaar weer. Ek is soos ‘n tiener. Smoorverlief. Ek kry skaam. Ek laat my kop sak. Maak sagte honde geluidjies. Ek en my boeties en sussies maak so, wanneer ons gelukkig is. Vol melk gedrink en by mamma lê, terwyl ons aan die slaap raak.

Stoffel gaan sit met my in sy arms, langs my ma. My boeties en sussies, lê rustig en slaap. Hy vryf haar kop en sê: “Baie dankie vir jou pragtige seun. Ek belowe, ek sal altyd lief wees vir hom. Ek sal hom soos my broer behandel, wat ek nooit gehad het nie.” My ma is slim. Sy verstaan. Sy lek Stoffel se hand. Ek sien ‘n traan in haar sagte bruin moedersoë. Dit is nie die eerste keer, dat sy van haar kinders, moes afskeid neem nie. Sy ken die seer. Sy ken die verlange. Sy ken die leemte wat dit laat. Dit is later, net sy. Alleen, met haar herinneringe. Vir diè seun, in Stoffel se arms, gaan sy baie mis. Hy is haar hart se punt. Sy rek haar nek. Ons soen mekaar. Vir die laaste keer.

Ek is lief vir my nuwe huis. Stoffel speel met my op die grasperk. Op die bed, op die mat in die sitkamer. Hy hou my vas wanneer ons saam met sy pa en ma in die motor ry. Die wêreld swiep verby. Ek is baie gelukkig. Daar is nie tyd vir verlang na my ma nie. Stoffel hou my besig.

Hy leer my nuwe dinge. Ek kan leer klim. Op en af. Ek was eers skrikkerig. Ek doen dit nou met gemak. Ons stap in die veld by ons huis. Ons bly in ‘n nuwe uitbreiding met nuwe huise. Daar is nog grondstrate. Ons slaap soms in die bos, by ‘n stroom helder water wat oor klippe loop. Dit is pragtig. Stoffel skiet voëltjies en duiwe met sy kettie. Ek gaan haal hulle. Ek het ‘n sagte jaghond mond. Ek kan mooi sag vat. Ek kan ook baie hard en seer byt. Ek hou wag oor Stoffel. Dag en nag. Ons maak vuur. Pluk die vere. Braai die voëltjies. Ons is altyd saam.

Ek was al op die plaas. Met die motor. Ook met die trein. Die trein het lank geneem. Ek onthou die klik-klak van die wiele. Die fluit van die trein. Die ander diere wat saam met my in die diere-trok gery het. Hulle geluide. Hulle reuke. Ek het baie na Stoffel verlang. Moet nie vir hom sê nie, ek het gehuil. Nie hard, dat die ander diere my kon hoor nie. Die trane het net geloop. Ek kon nie slaap nie. Ek het vir Stoffel gewag.

Dit was baie lekker op die plaas. Die veld lyk anders as by die huis. Daar is berge, daar is skape, perde, donkies, volstruise. Ek hardloop agterna. Stoffel ry op sy oupa se perd. Ons stap in die veld. Klim berg. Ek het my eerste dassie gevang. Hy het ‘n keep uit my neus gebyt. Daarna, was ek die dassiekoning. Stoffel het ‘n pragtige karos gehad. Gemaak van dassievelle. Ek het die meeste daarvan gevang.

Ons is nou weer terug by ons huis in die Baai. Ek was baie fiks. Ek het langs die fiets gehardloop. By die pedale. Ons het dikwels vir Delené, sy suster, gaan kuier. Sy het so vyftien kilometer vêr weg, gebly. Ons het by drie vulstasies gestop, op pad na haar. Daai tyd, was daar nog halwe dromme, vol water onder die kraan. Dit was om die lekplekke in die motors se binnebande te kry. Ek het nooit uit die dromme water gedrink nie. Stoffel het die kraan oopgemaak. Ek het die stroompie water, opgelek.

Ek het ook eensaamheid geken. Wanneer Stoffel skool toe gegaan het. Dan het ek maar naby die huis rondgedwaal. So teen twaalfuur, ek het gehoor Stoffel se ma het hom van die tyd, vertel, het ek op die lae pilaartjie van die muur, voor die huis, vir hom gaan wag. Hy het vir my gefluit wanneer hy van die bus afgeklim het by die grootpad. Dit was so vierhonderd meter weg. Dan hardloop ek hom tegemoet. Hy omhels my. Hy vryf my kop. Hy praat met my. Hy vertel my hoe baie hy my gemis het. Ek spring op en af langs hom. Nooit teen hom nie. Stoffel was eenkeer, baie lank weg. Ek wil daardie tyd nooit ooit weer oorhê nie.

Ek het hom net eenkeer in daardie hele jaar gesien. Hy was in die Leergimnasium. Ek het elke dag, om twaalfuur, vir hom gaan wag. Hy het nooit gekom nie. Sy pa of ma, het my later kom roep om te kom eet en slaap. Ek het op sy bed geslaap.

Later jare, was Stoffel op Universiteit. Ek het nogsteeds twaalfuur vir hom begin wag op die pilaartjie. Hy het nie meer vir my gefluit wanneer hy van die bus afklim nie. Ek het hom sien aankom in die verte. Ek stap hom styf-styf tegemoet. Hy hurk by my. Hy vryf my kop. Hy soen my kop. Hy praat nie meer met my nie.

Dit is weer twaalfuur, ek sit langs die pilaartjie. Stoffel fluit nie meer vir my nie. Ek sien hom nie meer wanneer hy huis toe kom nie. Ek ruik hom. Ek voel sy hand op my kop. Ek ruik sy asem. Hy soen my op my kop. Hy buk. Hy tel my op. Hy dra my soos die eerste dag toe ons ontmoet het. Hy sit my op sy bed. Hy kniel voor die bed soos wanneer hy bid. Sy arms is om my lyf. Sy kop druk teen my kop. Daar val ‘n traandruppel op. My kop raak nat. Stoffel se arms en lyf ruk. Ek voel ek gaan weg. Ek dink aan sy woorde, jare gelede: “Ek belowe, ek sal altyd lief wees vir hom.” Dit voel ek dryf weg van Stoffel. Hy kan my nie meer vashou nie. Ek lig my kop. Ek soen die persoon, wie ek liewer het as vir myself. Vir die laaste keer. Sy wang is nat. Dit proe na sout.

deur Stoffel Lombard |KAROO Groep, Facebook

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s