Goed, beter, beste, uitstekend!

Ek stap by die Nampo-skou rond. My mond hang oop. Ek verkyk my aan die groot trekkers en wat die mens al reggekry het om te vervaardig. Ek is mal oor prosesse en verkyk my na die masjinerie wat uit ’n paar stukkies poeier Ghost pops maak tot alles, netjies verpak, in jou hand beland. Ek kyk na die pragtige beeste wat so majestueus in die kraaltjie staan en pronk. Twee dae is heeltemal te min om alles te sien en in te neem.

Maar daar is ’n oom met so ’n deurmekaar stalletjie wat my aangegryp het. Hy is ’n afgetrede lugmag-ingenieur. Hy maak goetertjies wat werk. So het hy byvoorbeeld ’n toetser gemaak wat jy of by jou kar of jou sleepwa indruk om te toets of die ligte en kragsokke werk.

My vriend, wat ’n sleepwa-verhuringsbesigheid het, koop dadelik een, want nou hoef hulle nie elke keer ’n voertuig nader te sleep om seker te maak dat die ligte werk nie.

Maar die oom stop nie hier nie. Saam met die apparaat kom ’n lang kragdraad. Daarom het die oom ’n spesiale rakkie aanmekaar gesweis om dit op te rol, anders koek dit elke keer as dit gebêre word.

Maar daar is nog! Die apparaat is nogal swaar. Dit is netjies verpak in ’n wynboks en toegedraai met ’n hessian-tou. Die oom het verder gedink en besef dat die manne die boksie vêr na hulle karre toe moet dra. Daarom het hy ’n stukkie pyp gesny, die tou daardeur geryg en ’n handvatsel daarvan gemaak, sodat die hande nie seer gaan trek nie.

Die oom doen sy werk goed. Hy dink verder. Hy doen moeite. Hy sit die ekstra myl in. Goed. Beter. Beste. Ek dink hy kan homself nie keer nie en wil die beste vir sy kliënte gee. Ek hoop nie dié tipe mens sterf ooit uit nie.

Wanneer Paulus vir Titus vertel hoe die ouer vrouens die jonger vrouens moet lei en help, gebruik hy ook die woord “goed”: 5… Hulle moet wees ingetoë, kuis, huislik, goed …

Die jong vrouens moet goeie huisvrouens wees. Hulle moet ’n huis bymekaarsit wat die gesin nader aan mekaar trek. ’n Veilige hawe. ’n Ruimte waar elkeen hulself kan wees, maar ook kan leer hoe om die lewe te leef. Maar meer nog, ’n plekkie waar hulle meer van God kan leer, sodat dit eendag vir hulle maklik gaan wees om God te ontmoet.

My ma was so. My ma het haar werk goed gedoen. Nee, sy het dit nog beter gedoen. Sy het dit op haar beste gedoen.

En net so moet ons elkeen dit wat ons doen, goed doen. Of dit nou kinders grootmaak is en of dit nou is om op die skool of die universiteit te leer, alles moet ons goed doen. Daar waar ons werk, moet ons ons werk goed doen, sodat ander kan sien hoe dit gedoen moet word. Om as kinders van God goed te doen, beteken dat ons gewoonlik beter doen as die ander, want ons doen die beste wat ons kan. Ons gee ons alles.

Die Engelse woord excellence, duik by my op as ek aan die oom by die boeredag dink. As ons rêrig ons werk op aarde goed moet doen, moet dit van excellence getuig. Ja, laat mense vir Jesus deur ons werke sien, omdat alles wat ons aanpak goed, beter, beste, uitstekend is.

Teks
Tit 2:1-5

Om oor na te dink
Waar moet jy iets beter doen?
Hoe kan jy dit beter doen?
Is daar iemand wat jy kan vra om te help?

Gebed
Here, help my tog om nie net aan my eie gemak te dink nie, maar ook aan hoe dit wat ek doen ‘n invloed op ander en op die getuienis wat ek uitleef het. Help my om net my beste te gee, ook in die dinge wat vir my minder lekker is, sodat my lewe vir U eer sal bring. Amen.

Shalom
Gerjo Ben | Kruispad 247

2 thoughts on “Goed, beter, beste, uitstekend!

Leave a Reply to Guest Author Cancel reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s