Bokse

deur Stoffel Lombard (Facebook)

Ek sit dinge in bokse. Dan is dit buite sig en alles lyk netjies. Die bokse pak
ek weg. Ek weet waar hulle is. Ek weet wat in elke boks is. Ek is slordig. My
vrou se so. Ek is egter baie netjies op myself. My vrou se ook so. Ek is bly. Ek
kry 50%. Ek slaag die huwelik eksamen, net-net.

Jare gelede, was daar ‘n skoenfabriek met sy eie ketting- winkels. ‘n Eerste in sy klas. Edworks in Sydenham, PE. Tydens my B Com graad studies, (die B het lank gevat om te kom) het ek ook geleer van O&M. Ek was 2 jaar voltyds op UPE na my diensplig. Ek het in daai tyd 1 vak geslaag. Ek kort nog 12 om graad te vang. Ek gaan oud wees. Ek wonder of ou mense se brein nog skerp is. Myne was stomp vandat dit uit die boks gekom het.

Ek doen my graad deeltyds. My besluit. Ek werk by Edworks. Die besturende direkteur, mnr. Norman Meyers, was briljant, ‘n Jood. Ek hou van Jode, hulle is sag en intelligent. Hy roep my oor die interkomstelsel, na sy kantoor. Hy het ‘n probleem. Ek dink, werklik, ek het baie. Die produksie van lyn “y”, moet verbeter. Sal ek kan help. Ja, mnr. Meyers.

By Edworks het ek geleer, dit is nie wat jy weet nie, maar hoe jy mense behandel en hulle vertroue wen, wat jou ‘n reus maak. Jy staan bo, die mense onder jou, hou jou bo. Besef dit en waardeer dit. Ek het met al die werkers van lyn “y” geraadpleeg. Elke dag. Die nuwe produksielyn het in werking getree. ‘n Reuse sukses. Die werkers het werklik die probleem opgelos. Luister. Gebruik jou 2 ore en bietjie verstand. Daar is baie mense met meer ervaring as jy. Mnr. Meyers was meer as tevrede. My bankbalans het verander van rooi, na swart. Mnr. Meyers, is die rede vir my bokse. Sy gesegde was “excuses don’t put shoes in boxes.”

Die boks wat ek nou oopmaak, is: “Aberdeenstasie,” veilig weggebere, tussen my ore.

Dit is Sondagaand 9uur. Ek, Wagter, my 2 nefies en oom Theuns is op die stasie. Ek gaan terug Baai toe. Die tydjie op die plaas is verby. Die dassiekaros is nie klaar nie.

Ons drie neefs, le op ons mae, ons ore op die treinspoor. Elkeen het ‘n pennie in die hand. Ons wag vir die goederetrein van die Baai. Hy stop nie hier nie. Hy ry verby na Graaff – Reinet. Ek wag vir die 10 uur trein na die Baai. Hy kom van Graaff – Reinet Hy kom in die Baai 7 uur in die oggend. Jy voel die trilling op die spoor in jou oor, lank voor jy die trein se lig sien, of hom hoor aankom.

Ons drie staan op, buk, elkeen sit sy pennie op die spoor. Ons gaan staan langs die spoor. Die reuse lig kom. Jy kan nou die trein hoor. Hy is nog ver. Hy kom soos ‘n reuse duisendpoot met wiele wat klik- klak, verby. Hy bestaan uit segmente, oop spasies in die lang hoë lyf. Saam vorm dit die geweldige lang trein. Hy is verby. Ons gaan tel ons pennies op. Dit is groter en platter en dunner. In die Baai gaan ek ‘n gaatjie daarin maak, toutjie deursteek en ophang in my kamer. 1959. Die jaar van die skerpioen. Die jaar van die bye. Die jaar toe my oupa siek was en my nie stasie toe kon vat nie. Die jaar van baie dinge. Alles is in die boks. Ek maak die deksel toe. Ek is netjies. Ek bere die boks in my kop, tussen my ore. Ek sal later weer daarin krap.

Die trein na die Baai hou stil. Dit is 10 uur. Ek help met die laai van Wagter in die laaste wa. My neefs het my koffer klaar in die kompartement gesit. Ons is vanaand drie mense in die kompartement. Ek maak die venster in die gang oop. My oom is groot, nou is hy klein waar hy daar onder langs sy twee seuns staan. Iemand swaai ‘n groen lig. Die trein ruk dat my been swik. Hy fluit en probeer weer. Die keer fluit hy reg. Die klik-klak is soos musiek wat nou spoed optel. Nou sal die boere op die plaas moet armpomp om by te hou op die dansvloer.

Die beddegoedman kom maak my bed. Ek le weer bo. Ek hou van daar le. Die trein klik-klak my tot weer op die plaas. Ek raak aan die slaap, met Wagter op die bed, by my voete. Ons slaap in die Stoepkamer, op my oupa se plaas, in die Karoo.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s