Deur ons manier van doen

Ek hoor oor die radio van ’n verslag wat in die IT-wêreld gedoen is en dat daar bevind is dat Suid-Afrikaners onder die ongeskikste mense op digitale platforms is. Ek kon dit amper nie glo nie. Ek gaan Google dit toe en wraggies! Dit is toe so – nogal ’n studie van Microsoft se digitale beskaafdheidsafdeling. Suid-Afrika is 22ste geplaas uit 23 lande waar mense ongemanierd en disrespekvol aanlyn en op sosiale media optree. Dit was nie goeie nuus nie, want nou word alle Suid-Afrikaners se naam op dié manier deur die modder gesleep.

Almal van ons behoort aan verskeie groepe en wat ’n mens in die groep doen, gee aan ander ’n idee van die waarde van die groep. Wat ons as Christene doen, gee aan ander ’n prentjie van hoe Christene lyk. Sommige Christene gee die groep nie altyd ’n goeie naam nie.

Dis altyd interessant om te sien hoe baie kollegas van mekaar weet. Al staan jy nie voor in die koor nie, kan jy maar weet dat kollegas mekaar dophou. Hulle weet selfs of jy ’n volgeling van Jesus is, sonder dat jy dit noodwendig in soveel woorde gesê het. Die vraag is nou: Skets jy ’n goeie prentjie van Jesus sodat ander Hom ook wil ontmoet?

Daarom die opdrag: 1Christene wat slawe is, moet hulle baas met respek behandel. Hulle moenie enigiemand rede gee om iets slegs te sê van God of van al die dinge wat ons oor Christus leer nie.

Ons moet opstaan vir dit waarin ons glo. Ons moet vir ander wys wat dit beteken om agter Jesus aan te stap. Ons moet dit op só ’n manier doen dat hulle lus het om dit ook te doen.

Soos Coen (skuilnaam):

Jare gelede, toe ek nog in die aktiewe burgermag was, het ons een keer ’n twee maande grenskamp gedoen op Ondangwa bo in Namibië.

Ons offisiersmenasie was goed beplak met skamel geklede meisies en daar was die gebruiklike kommentaar daaroor tydens etenstye.

Toe ek dit eendag nie meer kon hou nie, het ek, ’n junior offisier, die kommandant aangevat.

Ek vra hom toe: “Commandant, if one of these girls would have been YOUR wife or YOUR daughter, would you be happy to discuss her in the way that you are discussing these girls? Would you be happy to have HER picture posted on a wall at an officer’s mess for everyone to enjoy and to marvel about?”

Daar was ’n paar oomblikke van geskokte stilte … Ek het ’n groot ontploffing verwag, omdat ek dit gewaag het om die bevelvoerder so aan te vat. Maar uiteindelik het hy erken dat dit ’n verkeerde ding was om te doen, en opdrag gegee dat die prente verwyder moet word.

’n Paar dae later kom een van my mede-offisiere na my toe en erken dat my opmerking sy oë ook oopgemaak het en dat hy van nou af sy lewe gaan verander.

Deur Coen wat opstaan in sy werksplek vir wat reg is en dit aanspreek, kom iemand tot inkeer. En die engele sing al die pad kliphard uit volle bors.

Mag dit ’n aansporing vir ons almal wees. Mag ons so optree dat God raakgesien word, daar waar ons speel, daar by ons vriende, maar ook daar by die werk. Dalk, eendag, is ons net so bevoorreg soos Coen om te hoor dat iemand hulle saak met God reggemaak het as gevolg van ons manier van doen.

Teks
1 Timoteus 6:1-2
Dink bietjie hieroor
Wat sê jou kollegas van jou manier van doen?
Sien hulle vir Jesus raak?
Trek dit hulle nader?

Gebed
Jesus, help my om in alle omstandighede ’n goeie prentjie van U te skets. Herinner my elke dag hoe ek U beeld suiwer kan weerkaats aan die mense saam met wie ek werk en leef. Amen.

Shalom

Gerjo Ben

 

bron : Ousus

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s