Gewone geloof

Elke Christen word geroep om met hulle woorde vir die wêreld te wys in wie hulle glo. So moet hulle manier van doen ook in lyn wees met God se wil. Daarom is dit so belangrik dat alles wat ons doen by die liefde begin. Die volgende baie belangrike bousteen vir Christene is om aan die wêreld te wys hoe ons glo. 12… wees jy vir die gelowiges ‘n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof …

Wanneer trials en tribulations en curveballs na jou kant toe kom, is geloof dikwels die eerste om die hasepad te kies. Ek wonder of dit ook waar is van jou lewe?

Dis eintlik so onverstaanbaar, want dit waaraan ons juis moet vashou, dit wat ons staande moet hou in die swaar tye glip eerste by die voordeur uit. Ons maak dit vir onsself soveel moeiliker om deur die moelike tye te kom as ons toelaat dat ons geloof ons ontglip.

Toe ons in die Suid-Kaap met vakansie was, het ek gedink dit sal goed wees om my seun op ’n diepsee visvang trippie te neem aangesien ons so min tyd deur die jaar het om dinge saam te doen.

Ek weet nie of jy al op so ’n visvang boot was nie, maar dit was vir my nogal baie interessant. Ons was ongeveer 10 ouens met 3 bemanningslede aan boord. Twee van die manne is daar om jou te help om aas aan te sit en kraaineste uit te sorteer – wat nogal gereeld gebeur het.

Ons het nie veel gevang nie en my seun se opmerking toe ons weer terug op die land was, was baie in die kol: “Pappa, dat ons nou só baie geld moes betaal om uit te vind dat nie een van ons eintlik van visvang hou nie!” Ek het lekker gelag vir sy opmerking.

Die dag was egter nie so sleg nie, want ons het saam met ’n skool van ’n paar honderd tornyne gery. Ons het lekker gesels en die tydjie saam was goed. Terwyl ons op ’n stadium rustig gewag het vir ’n pluk aan die lyn, dink ek skielik aan Petrus. Ek deel dit met my seun en vra hom of hy ook sommer so op die water sou loop. Hy is altyd gou uit die blokke en sê sommer dadelik ja.

Ek sien hy hou die water dop en die “ja” word al hoe sagter totdat dit later verander in ’n: “Ek wonder darem …”

Dis die prentjie van ons lewe. Ons praat baie vinnig oor ons geloof. In ons kop weet ons alles van geloof, maar as dit by die praktyk kom en ons sien die diep waters en groot deinings, is dit ons geloof wat in die hek duik. En dis verstaanbaar, want ons is totaal en al onbeholpe teen die groot kragte. Teen daardie groot deinings van die see en die diep waters onder ons boot, kan ons glad nie opstaan nie. Dis eenvoudig net té groot, té diep, té sterk. Dit kan ons met een slag verswelg en insluk.

Ons is almal eenders hier. Tog moet ons nie bly lê en agter ons menslike verskonings wegkruip nie. Ons moet die tekortkominge oorkom deur wanneer ons geloof wil wankel, God se Woord op te tel en die beloftes een vir een opsoek, uitspreek en bid sodat dit deel kan word van ons wese en keer dat ons geloof êrens uitglip. Wanneer ons tyd met God se Woord deurbring, stap ons anders daar weg met ’n geloof wat gegrond is en wat sterk genoeg is om die storms te trotseer.

My go to teks wanneer dit swaar gaan, is Jesaja 43: As die storms so erg is dat dit voel of jy ondergaan, sal die water jou nie verswelg nie, sal die vlamme jou nie skroei nie …

Teks

1 Timoteus 4:6-16

Dink bietjie hieroor
Waar duik jou geloof soms in die hek?
Is jou geloof ’n voorbeeld vir ander?
Hoe kan jy jou geloof in aksie sit?

Gebed
Vader, ek besef my tekortkominge. Ek besef dat my geloof te veel wankel. Tog hou ek met alles aan U vas. Sonder U sal dit nie werk nie. Amen.

Shalom

Gerjo Ben

bron : Ousus

One thought on “Gewone geloof

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s