As jy groot word op n skaapplaas dan ken jy n skaaplorrie.

bron : Jorina Claassen (facebook)

So mooi geskryf deur Tiaan Theron:

As jy groot word op n skaapplaas dan ken jy n skaaplorrie….. Hy lyk anders en ruik anders as ander lorries. Ek het groot geword in n 8 ton Hino. Daai jare is al ons skaap nog in PE bemark. Die voorbereiding vir die lang en uitmergelende rit begin vroeg die vorige dag. Pa gaan die ou lorrie van voor tot agter na, maak seker al die olies en water en bande is reg en gereed. Die Baai is so goed soos oorsee….

Die slaglammers word die vorige aand laat opgelaai en slaap oppi lorrie. Dan word hy teen n skuinste getrek, die kans is goed dat hy nie môreoggend in die ryp self gaan start nie. Dan gee ons hom so stootjie.

Ons eerste stop is Brakfontein, by die teerpad. Daar breek die dag en Pa stap om en kyk dat die skaap nie gaan lê nie. Ek is agter op die matras toegedraai in die “lorriekombers” net my oë steek uit. Die kajuit is maar vol windlekke en daar is n oorvloed “vars” lug!

Ons draai af oppi sementpad by Willowmore…nou hardloop die Hino lekker en Pa hang aan wiel want die ou lorrie dwaal en vrag is swaar. Tussen deur vertel Pa van mense wat hom die ander dag gehelp het toe hy hier en daar en daar teespoed gehad het. Plek plek ken hy n ou oom wat op die en daai plaas geboer het….

Ons maak die kosblik net duskant Steytlerville oop en n kind verloor beheer oor sy opgewondenheid. Ma het gekookte eiers en toebroodjies en worsies en hoenderboudjies ingepak. Ek vra of Pa wil eiers en n boudjie hê, hy sê nee hy kan darem nie n hoender so voor en na die tyd eet nie….gee maar net eers die eier aan..😂

Rondom middagete sleep ons die Baai binne…die wind waai en die slagpale ruik snaaks. Daar is nog boere met mooi nuwe groot lorries wat ook aflaai. Ek verkyk my…

Ons vat die pad terug Klipkrans toe. Die namiddagson is reg van voor en Pa kry swaar….
Ons koop vir Ma en die ander broers by die huis, op Steytlerville n sjokalade, Pa eet n “Flake”, ek drink n groenmelkie…..die lewe is n lied!

Laat aand trek ons Klipkrans se werf binne, Ma wag vir ons, sy kon nie bel nie daar was nog nie n ding soos n selfoon nie. Pa sug van verligting, Ma is dankbaar alles het voorspoedig gegaan. Niks het doodgetrap nie en ons het net een papwiel gehad….. Ek kon die laaste entjie huistoe, met ligte aan op Pa se skoot die lorrie bestuur. Ek raak nou groot…..

Die lewe staan nie stil nie…. Die Hino moes plek maak vir n Nissan Diesel. Een met n kragstuur nogal! Gistermiddag toe ek met my voorbereidings begin vir die vrag bokhaar Baai toe, kom klim my seuntjie voor by my in en help my die olie “check”…..

Die sirkel van die lewe nader sy begin plek, oor n paar dae van nou af skuif ek Pa na n siekeboeg by n versorgingsoord, sy kragte is min en sy moed gebreek…..

Die lewe voel lank, maar waardeer elke tree, dit gaan te vinnig verby. Wat sal ek nie wil gee om nog vir oulaas eenmaal Pa se gesig te sien as hy daai Hino in “topgear” in sit en vir my sê:”Seun nou loop hy lekker, nè!”

Ek wonder by myself, wat dink Christiaan as ek met so n tevrede uitdrukking na n lang gestoei met die ratte, ook n gepasde afdraend kry vir “topgear”? Maak nie saak nie… Die lewe het min genoeg afdraendes, geniet hulle, hulle maak alles die moeitewerd! Dit lyk my herrineringe is uiteindelik al wat oorbly, namate ons nader na die einde gaan.

Groete uit die Karoo.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s