Amper te veel ‘flaws’

Ek was van universiteitsdae af baie lief vir Paulus se briewe aan Timoteus. Seker omdat ek net so jonk soos Timoteus was en baie raad nodig gehad het van ’n mentor om my nie net op die pad te hou nie, maar iemand wat my ook kon help om deur die woeste winde van die lewe te beur.

Ek deel graag hier reg aan die begin van Timoteus se briewe iets persoonliks met jou. Op universiteit, wel, eintlik van skooldae af was ek nie ’n goeie student nie. Ek vermoed hulle sou my as kind gediagnoseer het met ADHD, want ek is nog steeds aandagafleibaar. Dis juis die rede hoekom ek skryf, sodat ek my fokus op een plek kan hou.

Ek kan nie vir jou beskryf hoe hard moet ek op my tande byt wanneer ek in die hoek van my skerm sien daar kom ’n e-pos in, om nie gou vinnig daarna te loer nie. Ek weet ek moet dit nie doen nie, maar as ek my weer kom kry, is ek weg van my Bybelstudie binne-in die e-pos program.

Met my konsentrasievermoë is daar so bietjie van ’n fout. En toe kom God en Hy help my om die fout te oorkóm deur my te help om te skryf.

Ek het skuldig gevoel oor my studies. Ek het skuldig gevoel oor die feit dat ek omtrent net bus bestuur het, sakke vol geld in restaurante verdien het en selfs my eie besproeiingsbesigheid gehad het, maar nie veel in die klas was nie en nog minder agter my boeke. Ek het skuldig gevoel oor die hoop boeke wat splinternuut gebly het.

Tog was ek dankbaar vir ’n paar vriende wat hulle oor my ontferm het en my deur die Kweekskool gesleep het.

Met my akademie was daar ook so bietjie fout. Toe kom God en Hy help my om op ’n gewone manier vir gewone mense Sy Woord te bring.

En terwyl ek nou so eerlik is, hier is nog ’n flaw: My geheue. As ek ’n stukkie in die Bybel lees, kan ek dit nie vir lank onthou nie. Dit steek seker so 5 minute vas en dan woeps, is dit weg, soos laas maand se pay.

Terwyl ek nog daar op die plaas geboer het ’n hele paar jaar gelede, kom God eendag en help my om my fout te oorkom en laat my toe om my vingers op ’n sleutelbord te laat raas.

Daar’s nog ’n hoop ander flaws, maar miskien moet ek hier ophou, want netnou kliek almal op die unsubscribe skakel.

Gewone mens, ekke. Gewone, sondige mens.

Wanneer ek dan Paulus se eerste vers lees, loop die trane sulke dun stroompies teen my wange af: 1 Ek, Paulus, is die skrywer van hierdie brief. Jesus Christus het my spesiaal gestuur om vir almal die goeie nuus te vertel. Want ek besef Jesus Christus het my ook spesiaal gestuur. Dan wonder ek wie is ek? Wie is ek met al my flaws om ander iets te wil vertel? Wie is ek om …

As iemand dan iets terug laat weet van ’n skryfsel wat gehelp het, besef ek sonder twyfel: Daar moet ’n God wees. Ja, daar moet ’n Gees wees wat woel en wat ’n mens met flaws se skryfsels reguit trek.

Dankie, God, vir die voorreg. Dankie leser, dat ek mag en dat jy dit lees.

Mag jy ook hieruit leer dat God ook vir jóú wil gebruik, al voel jy jou flaws is te veel …

Teks

1 Tim 1:1-2

https://www.bible.com/en-GB/bible/50/1TI.1.1-2.db

Dink bietjie hieroor

Wat is jou flaws?
Wat keer jou om dit vir God te gee?
Glo jy dat God jou ten spyte van jou flaws kan gebruik?

Gebed

Ja, Vader, daar moet ’n God wees, want op ons eie is daar eenvoudig net te veel foute. Amen.

Shalom

Gerjo Ben

bron : Ousus

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s