’n Sondaarsgebed vir jou!

Soms voel ek hoe die spanning in my opstoot as ek dink aan die leiers van ons land. Ek kan nie glo dat hulle oop en bloot so oneerlik is en dan verwag ons moet alles opeet vir soetkoek nie. Ek weet ’n rietdak het baie water nodig om geblus te word, maar om só ’n dam te bou – daai som klop nie.

Ek moes my boeke wat in Indië gedruk word in dollars betaal. Vir weke hou ek daagliks die rand se lopies dop. Ek jaag die mense met die papierwerk aan. Ek is gespanne, my hart klop woes, want ons moet nou betaal. Toe alles uiteindelik gereed is, gee ek die opdrag en betaal die boeke.

Die volgende week verbeter die prys van die rand met 50 sent …

Dis maar twee eenvoudige stories uit my lewe wat my snags laat rondrol en my hart onstuimig maak. Daar’s nog meer en heel waarskynlik in jou lewe ook – woeste stories.

Ek besef net weer dat ons nie gemaak is om so swaar te sleep aan die las van die lewe nie. Ons het mekaar nodig. Ons het God nodig. Anders …

Daarom bid Paulus vir die jong Christene van Tessalonika die volgende gebed: 17Mag Hy julle harte rustig maak en julle geloof sterk maak. En mag Hy julle help om die hele tyd net die regte dinge te sê en te doen.

Ons het nodig dat God ons harte rustig maak, want anders kook ons bloed. En as ons bloed koop, sê en doen ons nie mooi nie. Ek het baie voorbeelde om te noem, maar ek is te skaam. Ek is dalk nie skaam oor my bloed gekoop het nie, maar ek is skaam oor dit wat by my mond uitgekom het en selfs oor dinge wat ek gedoen het.

Ek vermoed jy ook.

Ek het nodig dat God my hart rustig maak sodat ek nie my bearings verloor nie.

Ek het nodig dat God my sal help dat ek nie my geloof langs die pad verloor en ontspoor nie.

Ek het nodig dat God ’n hele paar wagte voor my mond moet sit, want ek besef hoe kragtig die roer van ’n skip is.

En ja, ek het nodig dat God my sal help met my doen en late, want myne is net te dun, net te min en trek skeef.

Ek vermoed jy het dit ook nodig.

Ek wil vir jou bid en Adam tas se liedjie oor reën spring in my gedagtes op. Nie oor die vraag na reën nie, maar oor hy sy sondaarsgebed leen:

En ek leen vir jou ‘n sondaars gebede
van soggens vir hoop en saans vir vrede
en ek worstel met die engel
in die nag se swartste uur
Vra Jesus vir genade
en dat Hy vir jou die reën stuur

So leen ek ook nou vir jou my sondaarsgebed in die woorde van Paulus: 17Mag Hy julle harte rustig maak en julle geloof sterk maak. En mag Hy julle help om die hele tyd net die regte dinge te sê en te doen. Amen

Teks

2 Tessalonisense 2:13-17

https://www.bible.com/en-GB/bible/50/2TH.2.13-17.db

Om oor na te dink

Hoe sterk is jou hart en geloof?

Wat maak jou mond, hande en voete?

Hoe kan God help?

Gebed

Mag Hy julle harte rustig maak en julle geloof sterk maak. En mag Hy julle help om die hele tyd net die regte dinge te sê en te doen. Amen.

Shalom

Gerjo Ben

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s