Sommige geestelikes se warra-warra

Ek en ’n vriend ry saam en praat ’n bietjie oor ons belewing van hoe ander mense hulle geloof uitleef. Ek vertel hom dat ek soms minderwaardig voel teenoor ander se manier van dinge doen. Die manier waarop ander hulle geloof uitleef, laat voel my soms skuldig en dan sit ek vraagtekens agter my eie manier van glo en die uitleef daarvan en dan wonder ek of dit nie te min en te dun is nie.

Hy erken dit gebeur ook met hom.

Ons kan darem partykeer nie mooi dink nie. Ons is partykeer so liggeraak. Dit is veral oor dinge waaroor onsself nie 100% ingelig is nie. Neem nou maar die wederkoms. God se Woord bevat baie inligting daaroor, maar tog is daar ’n tikkie onrustigheid omdat dit ’n stukkie onsekerheid en vreemdheid behels. Dis veral in die sogenaamde grys areas waar ons maklik ons ore uitleen aan enige iemand anders wat volgens ons meer kennis het en dan volg ons hulle slaafs na.

Ek vermoed dis wat gebeur het met die mense van Tessalonika. Daarom waarsku Paulus: 2 Ek wil julle baie mooi vra om al julle vrese en twyfel oor die wederkoms te laat staan. Party van julle het al skoon moed verloor. Ander weer is doodbang. Dit is omdat julle alles vir soetkoek opeet wat mense vir julle oor die wederkoms vertel, veral hulle woorde dat hierdie groot dag op hande is. Sekere profete en predikers het julle skoon op hol. En asof dit nie erg genoeg is nie, is julle verder deurmekaar gemaak deur ’n vals brief wat in my naam daar by julle aangekom het.

Maar moenie vinger wys na hierdie klompie jong Christene nie. Hoeveel keer het ons nie ook al onseker gevoel nie? Hoeveel keer het ons nie al agter ’n groot geestelike aangehol en alles vir soetkoek opgeëet wat hy of sy na ons kant toe uitgedeel het nie?

Of dit nou die wederkoms of een of ander stuk teologie is, ons moet self seker maak wat die regte pad is om te stap. Almal is maar net mens. Ek ook. Ek het dan nou die dag ’n Kruispad skryfstuk uitgestuur waar ek gesê het die Israeliete is deur die Nyl!

As jy onseker is, neem jou Bybel en maak ’n studie. Vra die Heilige Gees om jou hand te neem en jou op die pad van die waarheid te lei. Beteken dit nou dat ons nie meer die geestelikes in ons lewe mag vra nie? Nee, vir seker nie. Hulle is juis daar geplaas om ons te help en te lei. Dit is net belangrik dat ons die waarheid toets aan die Woord van God, want dit is tog waar God se woorde geskryf staan.

Ja, ons broek bewe gou as daar iewers ’n ou opstaan en ’n dag en datum aankondig van Jesus se wederkoms. Hy het blykbaar ’n direkte lyn na Bo of een of ander visioen gesien. Dit raak ’n ou en jy wonder of jy gereed is en wat van al die kinders en die familie. Maar dis nie nodig om bang te wees nie.

Niemand weet nie, let wel, niemand nie! Jesus sal soos ’n dief in die nag kom. Sorg jy maar net dat jy reg is en maak seker dat jou geliefdes saam met jou by julle ewige tuiste sal aankom.

En as die ouens so warra-warra oor sogenaamde geestelike insigte en spesiale waarhede wat spesiaal aan hulle geopenbaar is, toets dit eers teen God se Woorde. Vra jou broers en suster rondom jou. Bid daaroor en laat toe dat die Heilige Gees die waarheid in jou oor fluister.

Vertrou God se waarheid en leef voluit, sonder onsekerhede of beperkings.

(En as jy nog steeds meer wil weet oor die eindtye, gaan lees gerus daaroor in 2 Tessalonisense 1:1-12. Hier word dit baie mooi verduidelik.)

Teks

2 Tessalonisense 2:1-12

Dink bietjie hieroor

Aan wie leen jy jou ore uit?

Raak jy soms bang vir wat ander sê?

Wat sê die Heilige Gees vir jou?

Gebed

Hemelse Vader, dankie dat U Heilige Gees my in alle waarheid lei. Help my om met vertroue elke saak en onsekerheid met U te bespreek en te glo dat U my op die regte pad sal lei. Ek verstaan nie alles nie, maar ek weet dat ek eendag alles sal ken en verstaan. Dankie vir daardie versekering in U Woord. Amen.

Shalom

Gerjo Ben

bron : Ousus

2 thoughts on “Sommige geestelikes se warra-warra

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s