SY LAS IS LIG

[oorsprong: Ousus]

SY LAS IS LIG

Matt 11:30: “My juk is sag en my las is lig”.

ʼn Paar jaar gelede het ek weens sekere keuses wat ek gemaak het en ʼn sameloop van omstandighede ’n punt in my lewe bereik waar alles vir my te veel geraak het. Die bediening het so veeleisend geraak dat ek gevoel het ek kan dit nie meer hanteer nie. Terwyl ek een dag in gebed geworstel het oor hierdie swaar las wat ek moes dra, het die Here deur hierdie Skrifgedeelte met my gepraat: “Dis nie My las wat jy dra nie, want My las is nie swaar nie.” Toe het hierdie vers meteens vir my ʼn persoonlike werklikheid geword! Sy las is lig! Hierdie belofte kom uit Sy eie mond! As my las swaar is, is dit nie Sy las nie!

ʼn Juk wat nie pas nie en ʼn swaar las loop hand aan hand. ʼn Os met ’n juk wat hom seermaak omdat dit hom nie pas nie, kan nie voluit trek nie, want hy kry seer. Ek onthou ʼn geleentheid toe ek as ʼn jong seuntjie saam met my pa geloop het en op ʼn afstand ʼn werker sien wat met ʼn skoffelploegie agter ʼn perd loop. Die perd was merkbaar ongemaklik. Kort-kort het die man die perd met die sweep bygekom. Dan het die perd harder probeer trek, net om dadelik weer terug te hou.

My pa, wat op ʼn plaas grootgeword het, het dadelik gemerk dat die tuig nie reg was nie. Ons het nader geloop en, ja, die tuig was heeltemal skeef voor die perd se bors. Trouens hy was hy al bloederig geskuur. ʼn Andersins normale las het vir die perd ondraaglik geraak omdat sy tuig nie gepas het nie. Ná my pa die tuig reggestel het, kon die perd gemaklik, sonder om slae te kry, die las verder trek.
Miskien is jou las swaar omdat jou juk jou nie pas nie.

GEBED: “Here, help my om die regte besluite te neem oor die jukke en laste in my lewe, want U las is nie swaar nie. Amen.”
(Pastoor Isak Burger)

Leave a comment